Jou Natuurgids

deur Megan Emmett en foto’s deur Shem Compion

Boek resensie deur Johan Rothmann – 14 September 2018

Jou Natuurgids is ‘n omvattende bron van boeiende inligting oor die algemeenste soogdiere, voëls, reptiele, paddas, insekte, spinnekoppe, skerpioene, bome en blomplante van Suider-Afrika. Dit bemagtig die leser met inligting wat die beste veldgidse in ons nasionale parke normaalweg met besoekers deel.
Die boek bevat praktiese, waarneembare inligting wat maklik lees en verklarings gee oor gedrag en eienskappe van ‘n wye verskeidenheid plant en dier spesies wat algemeen in die streek voorkom. Dit word aangevul met treffende kleurfoto’s wat die verklarings duidelik illustreer.
Die inhoud is verdeel in 5 afdelings: soogdiere, voëls, reptiele en paddas, insekte, spinagtiges en ander ongewerweldes, en bome en plante. Elk van die 5 afdelings is gedruk op glanspapier met verskillende agtergrond kleure. Saam met die meer as 900 kleurfoto’s, maak dit die boek visueel aantreklik en help dit om die verskillende afdelings vinnig en maklik te bereik.
Die teiken leser is enige natuur liefhebber wat Suider-Afrika besoek, of daarin woon. Die kleurvolle aanbieding sal byval vind by kinders en volwassenes. Die interessante feite in maklik verstaanbare taal sal beginners en gesoute natuurkenners boei.


Sommige soogdiere geniet meer inligting en blootstelling, byvoorbeeld 6 bladsye word aan Olifante afgestaan, terwyl die Blouaap 2 bladsye kry, en my gunsteling Swartwitpens net 1 bladsy. Vir elke soogdier word natuurlike verspreiding, lengte, gewig, dratyd, lewensduur, dieet, en spoor afdruk in ‘n klein tabel aangedui.








Die afdeling oor voëls is nie ‘n identifiseringsgids nie, maar eerder ‘n bron van boeiende feite oor die biologie en gedrag van die mees algemeenste voëls in ons streek. Interessante inligting wat op meer as een spesie van toepassing is, word verduidelik, byvoorbeeld: wat en hoe word die verskillende kleure van vere veroorsaak, of hoe maak voëls geluide. Soortgelyke voëls word verder in groepe beskryf, soos die hoofstuk oor Visvangers, of Roofvoëls.





‘n Groot verskeidenheid van inheemse bome word volledig beskryf met eenvoudige simbole wat die blaartipe, blaarrand, blaarrangskikking, en blaar duur aandui. ‘n Interessante toevoeging naas die bome, is die afdeling oor blomplante met tipiese volksname soos Noem-noem, Vingerhoedblom, Skoonma-se-tong, Bobbejaanstert.











Dertig insek spesies, negentien spinnekop spesies, vier skerpioene, en ses ander algemene ongewerweldes word beskryf.



Voorbeelde van interessante inligting wat nie in gewone veldgidse voorkom nie, is:
  • Die hare van ‘n Klipsringer is hol. Dit dien as isolasie teen uiterste temperature, help om vog te bewaar, en dien as skokbrekers indien die bokkie teen rotste sou val.
  • Visvangers is baie ingestel op persoonlike higiëne. Alhoewel die neste smerig en vol mis voorkom, duik volwasse Visavangers eers in water nadat hulle die nes verlaat om skoon te word.
  • Beskrywing van hoe die Valdeurspinnekop sy valdeur maak om prooi te vang.
Vir al die spesies wat in die boek voorkom, word die Afrikaanse en wetenskaplike name gegee. Daar is ‘n Engelse weergawe van die boek (Nature Unpacked), maar dit is jammer dat die Engelse name nie ook in hierdie Afrikaanse weergawe gegee word nie. Die volledige indeks agter in die boek maak dit moontlik om vir spesies te soek volgens die Afrikaanse of wetenskaplike naam.
Die boek is een van die Briza Klankleser publikasies. Die opsionele ekstra Klankleser apparaat maak dit moontlik om na diere en voëlgeluide te luister deur net die apparaat op die spesifieke bladsy te hou. Die resensie weergawe het nie die Klankleser apparaat ingesluit nie, so ek kan ongelukkig nie daaroor my waarneming gee nie.
Megan Emmett, die skrywer van Jou Natuurgids, is ‘n bekende in die natuurlewe bedryf. As gekwalifiseerde veldgids met FGASA vlak 3 kwalifikasie, het sy praktiese ondervinding oor ‘n lang tyd in die Kruger Nasionale Park opgedoen en later betrokke geraak by die opleiding van veldgidse. Haar belangstelling in die akademiese sy van die natuurlewe het gelei tot verskeie artikels in tydskrifte soos African Geographic, en natuur reekse vir televisie kanale 50/50, National Geographic en Animal Planet. ‘n Paar boeke het al uit haar pen verskyn, waarvan die bekendste en suksesvolste die Game Ranger in Your Backpack, oftewel Die Veldwagter Stap Saam in Afrikaans. Die vraag duik op hoe verskil Jou Natuurgids van hierdie vorige boeke – bied dit iets nuut en anders ?


Die formaat met die kleurvolle afdelings, kleur foto’s, en praktiese, verstaanbare verduidelikings stem baie ooreen. Alhoewel sekere spesies in beide boeke beskryf word, kan ek sê dat Jou Natuurgids meer spesie beskrywings bevat as Die Veldwagter Stap Saam. Een voorbeeld is die 2-bladsy beskrywing van die Gewone Luislang wat gladnie in Die Veldwagter Stap Saam verskyn het nie. Hier word 48 boomsoorte teenoor 43 beskryf plus die beskrywing van 47 blomplante teenoor die ander boek se 32. Dieselfde geld vir die ander afdelings. Jou Natuurgids bevat dus meer inligting saamgevat in een boek.




Shem Compion is ‘n professionele wildfotograaf met verskeie nasionale en internasionale toekennings. Hierdie boek is sy vyfde publikasie waarvan sommiges ook saam met Megan Emmett was. Alhoewel meeste foto’s in die boek deur hom geneem is, word foto’s van 38 ander fotograwe ook ingesluit.
Jou Natuurgids is nie bedoel as ‘n identifiseringsgids nie. Dit bevat veel meer inligting wat natuur reisigers in Suider-Afrika ‘n nuwe bron van interessante feite bied. Dit sal ook van groot waarde wees vir skoliere/studente wat soek na vars boeiende materiaal oor ons natuurlewe, saamgevat in een boek.
Jou Natuurgids deur Megan Emmett en meeste foto’s deur Shem Compion

Eerste uitgawe, eerste druk 2018

Sagteband omslag met 384 bladsye van 240 x 168mm.
Uitgegee deur BRIZA PUBLIKASIES (www.briza.co.za)
ISBN: 978-1-920217-41-9
Prys tydens die resensie (Sep 2018): R326.09 BTW ingesluit.