Roberts Voëlgids – Tweede uitgawe

Boek resensie deur Johan Rothmann – 17 Augustus 2018


Vir die volledigste en akkuraatste Suid-Afrikaanse voëlgids, boonop in Afrikaans, hoef jy nie verder te soek nie.





In Suid-Afrika is ons geseënd met ‘n groot verskeidenheid van hoë kwaliteit boeke oor voëls in ons streek. Die Engelse weergawe van die bekende Roberts Voëlgids se tweede uitgawe is in November 2016 gepubliseer (English review - click here). Die Afrikaanse weergawe van hierdie tweede uitgawe is in Julie 2018 vrygestel. Dit sal voorwaar die maatstaf word vir enige toekomstige voëlgidse in Afrikaans.


Opvallende verskille tussen hierdie nuwe weergawe en die eerste uitgawe van 2007, is eerstens die indrukwekkende skets van ‘n Sekretarisvoël op die voorblad deur Ingrid Weiersbye, en die meer as 100 ekstra bladsye wat die boek neem na ‘n totaal van 570 bladsye. Die boek is in sagteband met ‘n sterk plastiese buiteblad. Die bind kwaliteit deur ABC Press van Kaapstad verseker dat die boek bykans onvernietigbaar is wat dit uiters geskik maak om in die veld te gebruik.


‘n Totaal van 971 voëlspesies van Suider Afrika word gedek. Dit is die gebied suid van die Kunene, Kavango en Zambezi riviere en sluit Namibië, Botswana, Zimbabwe, Mosambiek, Suid-Afrika, Lesotho en Swaziland in. Die inleidende deel beskryf al die habitats met die spesifieke biooms in detail en word verder verduidelik met kaarte wat die politieke grense, reënval, en topografie aandui. ‘n Baie handige verklarende woordelys van tipiese voëlterme is ook ingesluit.


Vir elk van die 971 spesies is daar kleurvolle sketse wat ook die geslags- en ouderdomsverskille aandui. Die illustrasies in die boek is merkwaardig akkuraat en lewensgetrou. Ek het al verskeie kere ondervind dat die sketse in hierdie boek meer lewensgetrou is as die van ander bekende Suid-Afrikaanse voëlgidse. Voorbeelde hiervan is kleur van oë en pote.




Die teks, wat ook die wetenskaplike en Engelse naam aandui, beskryf spesifieke eienskappe, kos voorkeure, habitat, migrasie status, roep, en grootte. ‘n Verspreidingskaart met aanduiding van broei seisoen is ook ingesluit vir elk van die spesies. ‘n Nuwe en welkome toevoeging in hierdie tweede uitgawe is aanvullende fotos by sekere spesies in hulle spesifieke habitat. Dit is die mees omvattendste beskrywing van voëls in veldgidse van hierdie omvang.


Ek is baie beindruk met die 3 vorme van indekse wat dit moontlik maak om voëls maklik op te spoor: ‘n kort visuele indeks, ‘n kort alfabetiese indeks, en ‘n gekombineerde indeks van Afrikaanse, Engelse en wetenskaplike name.
Ek mis die ou Roberts nommers wat in die eerste weergawe verskyn het. Dit is waarskynlik as gevolg van die nomenklatuur en taksonomie van die International Ornithological Congress wat vir die uitgawe aanvaar is.

Hierdie boek kan onvoorwaardelik vir alle vlakke van voël entoesiaste aanbeveel word.
Roberts Voëlgids – tweede uitgawe Julie 2018
Gepubliseer deur Die John Voelcker Voëlboekfonds (www.robertsbirds.co.za)
Hugh Chittenden, Greg Davies, Ingrid Weiersbye
Afrikaanse vertaling deur Joey Kok
ISBN 978-1-920602-05-5
Versprei deur Jacana Media (www.jacana.co.za)
Prys ten tye van die resensie (Augustus 2018): sagteband R280